whats_new



 

 

 

 









 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 



 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 










BEELD -- Mzanzi Collection
1 Decmber 2009

http://www.news24.com/Beeld/Vroue/0,,3-1841_2435676,00.html

"‘Uit eie bodem’ raak ál lekkerder

Wanneer tendense onder die vergrootglas gesit word, staan een ding uit soos ’n paal bo plaasdamwater: local is lekkerder as ooit. “Made in China” maak plek vir “uit eie bodem”! 

Voeg by dié neiging die gonswoord “etnies” en ’n stewige skeut eties.

Roer elemente soos handgemaak, enig-in-sy-soort, volhoubaar en geskenke-met-’n-gewete by die mengsel en jy kry ’n koop-konsep sonder weerga.

Met die bekendstelling van ’n egte Suid-Afrikaanse winkelkonsep, Mzansi Collection, verlede Vrydag in Sandton, verander “koop tot jy omval” in ’n besielende inkopie-ervaring.

Aalwyn-marmelade

Die Mzansi Collection is nog tot 16 Desember in ’n spesiaal-geskepte winkel by die Sandton-biblioteek op Nelson Mandela-plein te sien. Ná die proeflopie kry die winkel-konsep in Maart 2009 ’n permanente staanplek, waarna dit landwyd en selfs internasionaal op ’n konsessiebasis ontplooi.

Die produkversameling is op kleinhandelaars, groothandelaars, asook verbruikers aan die bo-punt van die leer gerig.

In die winkel met sy hip dekor kreun die rakke met “gemaak in Suid-Afrika”-produkte so uiteenlopend soos aalwyn-marmelade en koffie­bone uit KwaZulu-Natal, Imiso se kontemporêre keramiek uit die Kaap, funky kussings van oorskiet-velt uit MacGregor, kosbare juweliersware deur ’n mieliestronk geïnspireer en die sewe Brutus-susters uit Paternoster se African Roots-wyn.

Kyk ook uit vir Sophy, ’n kralewerk Ndebele-engel vir jou Kersboom.

Terwyl oorsese toeriste hul aan Zulu Lulu se koddige Dhlamini-kleibeelde met ’n sokkerbal op die kop vergaap, kan hulle nou egte aandenkings met ’n Suid-Afrikaanse karakter koop én tot werkskepping in Suid-Afrika bydra.

Omdat al die produkte wat vir die winkel gekeur is uit eie bodem is, is dit uitstekende alternatiewe vir die oorvloed onpersoonlike, masjiengemaakte produkte wat op groot skaal vervaardig word.

Wat is die storie?

“Mzansi”, die woord wat gekies is om die versameling se naam te dra, beteken “van die suide” en weerspieël die nuwe uitkyk op eg-Suid-Afrikaanse produkte.

Volgens me. Nadia Sujee, kreatiewe direkteur van die departement van handel en nywerheid, moes die produkte wat gekies is vir die versameling aan standaarde soos eko-vriendelikheid, voortreflike ontwerp en vakmanskap voldoen.

Die verskyning van die etiese verbruiker het die grootste invloed op neigings. “Hierdie verbruikers soek produkte met integriteit en regverdige handelsbeginsels.”

Die bedremmeldheid van die ekonomie en die werklikheid van aardverhitting is die verdere doodskoot vir gulsige uitspattigheid. Op alle vlakke draai mense briek aan. Hulle smag na betekenis en sal eerder besittings met substansie en ’n storie aanskaf.

Dit vind hulle in die handgemaakte, die geskiedkundige en die sentimentele. Mense het ook ’n weersin ontwikkel aan swak namaaksels en ’n nuwe waardering vir skoonheid, integriteit en gehalte begin kry. Goeie ontwerp word as ’n kunsvorm waardeer en mense belê weer met geesdrif in oorspronklike stukke.

Madiba en FW

’n Goeie voorbeeld hiervan is die papier-maché-beeld van Madiba deur Victor Nkuna, ’n kunstenaar by die Hassah Arts and Crafts Centre. Hy het ’n ver pad gekom sedert die dae wat hy ’n bestaan as sypaadjiesmous probeer maak het. Sy beelde van bekendes (onder andere oudpres. F.W. de Klerk met sy Nobelprys) word van herwonne eierverpakking en ander papierafval gemaak.

Nie een beeld lyk soos die ander nie en elkeen het sy eie reeksnommer.

“Ek het begin om beelde van Nelson Mandela te maak omdat hy iemand is waarna ek kan opsien,” vertel Nkuna.

“Die patrone wat op die hemp van die Madiba-standbeeld geskilder is, is presies dieselfde as een van Madiba se eie hemde.”

Nog ’n item met ’n spesiale storie is juweliersware van die Atteridgeville Jewellery Projects-reeks. Die ontwerper het inspirasie gekry in die taktiese bordspel morabaraba, ’n eeue-oue speletjie wat tradisioneel aan jong bokwagters geleer is en nou met ywer in townships gespeel word.

Fana Maseko van die Atteridgeville-projek wat geen formele opleiding in juwelierontwerp ontvang het nie, word deur die natuur, die helder kleure van Afrika en veral die lyne en skoonheid van verweerde rotsformasies aangespoor.

Kleurryke kultuurgoed

Die idee van die Mzansi Collection was dié van die voormalige adj.pres. Phumzile Mlambo-Ngcuka en is aangeneem deur haar opvolger, me. Baleka Mbete. Die idee is dat dit ’n bydrae sal lewer om marktoegang aan ontluikende en klein ondernemings te bied. Die projek word gelei deur die departement van handel en nywerheid in samewerking met ander staatsdepartemente, Jobs for Growth/IDT en onder meer die Stad van Johannesburg, Gauteng se provinsiale regering en Trots Suid-Afrikaans.

Mnr. Iqbal Sharma, adjunk-direkteur-generaal van handel en beleggings SA, verduidelik dat Mzansi Collection ’n oorkoepelende handelsmerk vir drie produk-kategorieë is. “Gift is ’n korporatiewe geskenkreeks met ’n sin vir sosiale verantwoordelikheid gerig op die korporatiewe- en konferensiemark, terwyl South African Handmade Collection weer kontemporêre handgemaakte vlyt insluit. In die Homegrown Collection is daar kosprodukte en wyn wat die landbousektor verteenwoordig.”

Sharma sê Mzansi Collection is gemik op kieskeurige kopers wat gehalte en ’n ware Suid-Afrikaanse ervaring op prys stel.

“Die Mzansi-winkelkonsep bied gerief, toeganklikheid en ’n mengsel van kreatiwiteit, etnisiteit en voortreflike sakepraktyke. Al die produkte vertel saam aan die storie van ons nasie en ons kleurryke kultuurgoed.”

Mieliemeel-peerkoek

Die Mzansi Koffiewinkel se spyskaart gee ’n kontemporêre kinkel aan Suid-Afrika se kulinêre erfenis: rooibos- en bessie-ystee, tuisgemaakte gemmerbier, Zulubrew-koffie, bobotie-springrolls; konfyt en piekels van aalwyn, makadamia- melktertjies en ’n mieliemeel-peerkoek.

’n Openbare kunsprogram word ook as deel van die Mzansi Collection-bekendstelling aangebied.

Die Mzansi Collection Store is daagliks tot 16 Desember van 09:00 tot 18:00 oop.
Vir meer inligting, skakel 011 549 8300.

 
 
Hassah products NOW SOLD at Mzanzi
Visitors at the Mzansi store admiring one of
the Hassah products: Madiba statues by Victor Nkuna